Registreer Nou!
Teken in
Welkom by Uitsaaines.co.za
Friday, May 18 2012 @ 04:19 AM CDT

As die dood intree

 INLEIDING

As afgetrede assistent-direkteur  van ‘n groot munisipaliteit in Pretoria, het die skrywer die begeerte om van sy besondere kennis, oor ‘n tydperk van 26 jaar, in die Departement Parke- en Ontspanning: Onderafdeling Begraafplaasdienste oor begraafplase, krematoriums, begrafnisse en verassings opgedoen het, in skrif vas te lê, met die wete dat dit vir baie mense van groot waarde gaan wees. Die skrywer het ondervind dat die meeste mense, oor min of geen kennis beskik, wanneer dit by begrafnis- en/of verassingsreëlings kom, en is duisende mense in die verlede deur “onkunde”, en as gevolg van die traumatiese gebeurtenis, uitgebuit deur sommige begrafnisondernemers. Begrafnisondernemings is seker een van die oudste beroepe en die oorledene se agtergeblewenes maak staat op laasgenoemde vir bystand en/of hulpverlening.

Die “Funeral Industry Regulation Campaigne”-groep in Gauteng, probeer al jare om die Regering  sover te kry dat ‘n nasionale liggaam tot stand gebring moet word, waar begrafnisse-, verassing en gesondheidswetgewing op alle begrafnisondernemers afgedwing word. Skokkende onreëlmatighede en uitbuiting vind plaas veral deur ondernemers wat nie geregistreer is nie, en ook bekend staan as die sogenaamde “Fly by nights”. Op die groep se webblad verskyn daagliks onaangename gebeure, en hoe liggame deur sommige hospitaalpersoneel, ander gesondheidsinrigtings en lede van die SUID-AFRIKAANSE POLISIEDIENS aan sommige begrafnisondernemers VERKOOP word.

Dit is verbasend en opmerklik hoe mense wegskram en byna koud staan teen die gedagte om van die dood te praat. Dit is ‘n voldonge feit dat die dood ons eindbestemming is. Geen wetgewing verhoed ‘n familie om SELF, hul geliefde te begrawe of te veras nie. Hierdie gebruik vind gereeld plaas. Kennis van munisipale wetgewing is belankrik in die sin dat lesers moet weet, wat toelaatbaar en nie-toelaatbaar is in begraafplase en op krematorium terreine.

Die skrywer  gee in sy eerste artikel as inleiding, inligting  oor munisipale wetgewing, ontwikkeling van begraafplase, private begraafplase, begraafplaaspersoneelstrukture en ‘n paar ander. In daaropvolgende artikels word lesers ingelig van die volgende:

Is verassing sonde?, Is kiste werklik so duur?, Opgrawings, Orgaan-en weefselskenking, Behoeftige begrafnisse- en verassings, Talle tergende vrae veral ten opsigte van verassing word vir die eerste keer duidelik en met die waarheid beantwoord, hoe uitbuiting plaasvind en verhoed kan word. Hoe word ‘n geliefde se oorskot vanuit die buiteland na Suid-Afrika gebring.

INLIGTINGSBRONNE:

26 Jaar se praktiese kennis in ‘n plaaslike bestuur

Sy boek, As die dood intree-‘n Praktiese handleiding

Funeral Industry Regulation Campaigne

E-POSADRES: jcgreen@vodamail.co.za


 GESKRYF DEUR: Johan Green

WETGEWING

Elke munisipaliteit in Suid-Afrika beskik oor begraafplaas- en krematoriumverordeninge wat in ‘n staatskoerant gepubliseer is. Dit is ‘n lywige dokument wat by begraafplaaskantore vir insae deur die publiek beskikbaar is. Indien nie beskikbaar is nie, kan hulle wel die leser inlig in watter staatskoerant dit verskyn het. Die verordeninge gee volledige betekenisse van die volgende: As, begrafnisse,verassings, grafreservering, heropening van ‘n graf, opgrawings, soorte teraardebestellings, grafonderhoud, behoeftige begrafnisse- en verassings en andere. Kennis van verordeninge- en begraafplaasdienste kan verwarring, frustrasie en onnodige ritte tydens ‘n begrafnis/verassingreëling uitskakel. Wanneer begrafnisondernemers of begraafplaaspersoneel u behulpsaam is, sal u presies weet waarvan hulle praat. Misverstand kan uitgeskakel en die korrekte diens gelewer word aangesien u op hoogte is wat verlang word.

Die publiek was in die verlede suksesvol met die volgende eise:

a.       Die beskadiging van gedenkstene gedurende windstorms deur vallende bome, geplant deur die munisipaliteite. Ou bome mag ook ten tye van droogte omval en ernstige skade veroorsaak.

b.      Terwyl ‘n persoon deur die begraafplaas met ‘n motor ry, is daar die moontlikheid van skade aan ‘n motor deur klippe van ‘n munisipale werker of kontrakteur se masjien. Indien deur ‘n munisipale werker, moet die publiek ‘n eis indien deur die munisipalitiet se regsafdeling. Eise mag direk ingestel word teen ‘n kontrakteur aangesien hulle daagliks op die terrein rondbeweeg.

 

MUNISIPALE  BEGRAAFPLASE

Hierdie begraafplase word gewoonlik beplan vir ‘n tydperk van tussen 50 en 75 jaar. Munisipaliteite het begraafplase binne woongebiede in die verlede ontwikkel. Na die verkiesing in 1994 is alle begraafplase onder die beheer van munisipaliteite oopgestel vir gebruik deur al die bevolkingsgroepe en is eersgenoemde nie meer haalbaar nie. Die koste vir die ontwikkeling van ‘n munisipale begraafplaas is tussen R8 en R10miljoen. Begrafnisse het oor die laaste 10 tot 15 jaar byna verdubbel. In Pretoria word 2 340 begrafnisse en 240 verassings per maand uitgevoer. Statistieke oor jare het bewys dat sterftes byna verdubbel in die wintermaande. Dit is gewoonlik onder baie klein kindertjies en volwassenes tussen 65 en 95 jaar. Griep, bronchitis en dubbele longontsteking is die hoofoorsaak. Hiv gevalle speel natuurlik ook ‘n groot rol, veral as ons in aanmerking neem dat die liggaam se weerstand afgetakel word en die koue wintermaande die toestand vererger..

Ons land beskik oor miljoene hektaar land wat nie vir begrawedoeleindes geskik is nie as gevolg van rotsformasies en hoë watertafels.

Munisipaliteite het talle van hulle bestaande begraafplase die afgelope vyf jaar vir begrafnisse gesluit. Alleenlik begrafnisse waar ‘n tweede en selfs ‘n derde in sommige stede se begraafplase toegelaat, word op die eerste geplaas word, is nog toelaatbaar. Ongeveer  54 begraafplase is reeds gesluit in groter stede soos Pretoria, Johannesburg, Durban, Port Elizabeth en Kaapstad.

BEPLAN MUNISIPALITEITE OPGRAWINGS VAN MENSLIKE OORSKOTTE IN VOL BEGRAAFPLASE OM PLEK VIR NUWE TERAARDEBESTELLINGS TE MAAK?

Koerante berig landwyd die afgelope paar jaar dat begraafplase vinnig vol word en daar ‘n ernstige tekort aan geskikte grond is vir begrawedoeleindes. Die stadium wanneer ‘n begraafplaas nie meer beskik oor nuwe grafte nie, word die word “vol” gebruik.

Wanneer is ‘n begraafplaas vol?

a. ‘n Tweede of derde liggaam reeds op die eerste een begrawe is, en

b .Geen administratiewe munisipale dienste meer gelewer word nie.

Suid-Afrika se bevolking het groot kulturele verskille. Die begrawe metode van die Jode-, Moslem-, Hindoe-, Sjinese-, en Swart gemeenskappe verskil merkbaar van mekaar en is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Jode en Moslems begrawe net  een liggaam in ‘n graf. Munisipaliteite sal nie ligtelik kyk na die moontlikheid van opgrawing van oorskotte vir herbegrawing in massagrafte nie.

In kleiner digbevolkte lande het regerings verassings begin afdwing. Die moontlikheid om liggame regop te begrawe, is drie jaar gelede op ‘n sekere televisiekanaal genoem. Dit verstom hoe onkundig die deelnemers was. Deeglike navorsing en praktiese kennis van begraafplaasdienste sal onomwonde aandui dat die regop begrawing van liggame nie haalbaar is nie. Geen grafgrond kan op hierdie manier bespaar word nie. Begrafnisse is ‘n sensitiewe saak vir bedroefde families en moet gerespekteer word.

HOEKOM SAK GRAFTE?

a.       Reën

b.      Wanneer die kisdeksel na ‘n geruime tyd meegee deur swaar nat grond

c.       Wanneer die kiskante op ‘n stadium meegee

d.      Soos die vergaanproses voortdurend plaasvind

Ondervinding het geleer grafte sak vir etlike jare as gevolg van bogenoemde redes. Dit is onvermydelik en sal nie verander nie. Die proses sal voortgaan. Indien familie wag dat ‘n graf moet klaar sak, gaan hulle baie lank wag. Grafstene word landwyd gereeld, direk na afloop van begrafnisse opgerig. Indien grafstene korrek bo-op die walle van grafte opgerig word, sal die grafsteen nie na ‘n tydperk, vyf-en-veertig grade skuins gaan lê nie. Swak toesighouding deur munisipale amptenare oor grafsteenoprigters  is meestal vir die toestand verantwoordelik. In ou begraafplase is die mildelike gebruik van leiklip te sien as ondersteuning van randstene onder grafstene.

Lesers sal vind dat in baie ou begraafplase die grafstene se randstene wegbeweeg het van die kopstene. Grafsteenmakers sê grafstene “loop.” Dit kom voor as gevolg van dinamietskietwerk in die omgewing en selfs ver van begraafplase af.Ligte aardbewings dra ook daartoe by.

BEGRAAFPLAASPERSONEELSTRUKTURE

Munisipaliteite in Suid-Afrika lewer enerse dienste. Dokumentasie en sterfteregisters is deurgaans dieselfde met min afwykings. In ‘n dorp of stad se telefoongids, word begraafplase en krematoriums onder die munisipale seksie, Parke- en Onspanningafdeling/Departement, gelys. Let daarop dat alhoewel begraafplase ingesluit is by bogenoemde Afdeling/Departement, alle aspekte van begrafnisse- en verassings deur begraafplaaspersoneel geadministreer word. Aangesien die instandhouding daarvan ‘n tuinboufunksie is, word begraafplase ingesluit onder die Parke-en Ontspanningsafdeling/department. Tyd, frustrasie en telefoonkoste sal bespaar word as lede van die publiek versoek om direk na die korrekte begraafplaaspersoneelseksie deurgeskakel te word.

In Pretoria byvoorbeeld is 41 begraafplase verdeel in vier streke. ‘n Direkteur is in algehele beheer daarvan. Vier assistent-direkteure is elkeen verantwoordelik vir ‘n streek. ‘n Groep begraafplase in een streek word beheer deur senior administratiewe beamptes, verantwoordelik vir die groep aanbegraafplase. In elke begraafplaas word administratiewe beamptes geplaas. In al die groter stede word ‘n soortgelyke struktuur aangetref. Dit verskil egter op die platteland in kleiner dorpe. Die publiek moet die begraafplaas waar hulle inligting benodig, direk skakel. Kennis van genoemde strukture is belankrik wanneer klagtes ingedien word of grafte bespreek moet word.

GRAFRESERVERING

Wnneer persone tot sterwe kom, word grafte deur munisipaliteite beskikbaar gestel. Vooraf of vooruitreservering is nie meer toelaatbaar as gevolg van ‘n grondskaarste nie. Grafte word nie verkoop nie en behoort altyd aan die munisipaliteit. Die persoon wat die begrafnis betaal, word die reserveringhouer van die graf. Na die betaling, verkry hy/sy regte vir die begrawe van een, twee of drie liggame in een enkel graf en vir die oprigting van ‘n grafsteen van sy/haar keuse. Vier begraafplase in Pretoria beskik oor ‘n graf bermstelsel waar drie liggame bo-op mekaar begrawe mag word. Die doel daarvan is om waar ‘n familie in die geheel omgekom het in byvoorbeeld ‘n motorongeluk of vliegramp te akkommodeer

Mense is dikwels ontevrede met hoë grafregtekoste. Laasgenoemde is die bedrag betaalbaar vir ‘n stuk grond, of beter gestel, vir ‘n graf. Daar moet egter begryp word dat mense wat sover terug as 1910 begrawe is se grafte nog steeds deur munisipaliteite in stand gehou word. Munisipaliteite begroot miljoene rande vir die instandhoudingskoste.

Munisipaliteite is verantwoordelik vir die instandhouding van begraafplase onder hulle beheer. Hulle is verantwoordelik vir die instandhouding rondom grafte en nie bo-op grafte nie. Naasbestaandes van die oorledene is verantwoordelik daarvoor. Dit is skokkend hoe die onderhoud van begraafplase sedert die vroeë negentigs deur munisipaliteite met swak dienslewering verwaarloos word terwyl belastingbetalers daarvoor betaal. Word dit te maklik aanvaar, en wanneer gaan iemand iets daaromtrent doen?

Terugspoor

Terugspoor URL vir hierdie inskrywing: http://www.uitsaaines.co.za/trackback.php/2011110503241085

Geen terugspoorkommentaar vir hierdie inskrywing nie.

0 kommentaar

Die volgende kommentaar is die eiendom van wie dit ookal gepos het. Hierdie werf is geensins verantwoordelik vir wat daar gesê word nie.

Soek met Google

Custom Search

INHOUD

Afrikaanse Musiek Kunstenaars

Afrikaanse Musiek Videos

Afrikaanse Musiek Lirieke

Gebruikersfunksies





Nog nie 'n rekening? Registreer dan as 'n Nuwe Gebruiker
Jou wagwoord vergeet?

ADVERTEER HIER!

Die Weer Voorspelling