Studio 1 Tel nommer
Wednesday, January 06 2010 @ 09:46 AM CST
Geskryf deur: Kraai
’n Veroordeelde verkragter van Fourways in Johannesburg wat die misdaad al 12 jaar gelede gepleeg het, het hom gister op hoofregter Sandile Ngcobo beroep omdat hy nou nog nie sy vonnis van 12 jaar begin uitdien het nie. Dirk Fletcher, ’n sakeman, is in 2003 in die Randse hooggeregshof 12 jaar tronk toe gestuur weens die verkragting naby Fourways in Januarie 1998. Sy appèlgedinge is telkens vertraag, wat meegebring het dat sy appèl in die appèlhof teen sy skuldigbevinding en vonnis vanjaar eers aangehoor is. Die appèlregters het sy appèl verwerp.
’n Vuurwarm debat woed onder lede van ’n Facebook-groep oor Eerste Nasionale Bank (ENB) se beursskema waardeur net swart kinders bevoordeel word. Die Facebook-groep No to FNB Racism! het teen gistermiddag al 1 252 lede gehad. Mnr. Manie Bosman van Pretoria het dié groep verlede Maandag gestig nadat dit aan die lig gekom het ENB bied geldelike studiehulp aan werknemers met laerskoolkinders en wat minder as R100 000 per jaar verdien, maar nét as hulle swart is. Talle mense het gedreig om van bank te verander. Dr. Michael Jordaan, uitvoerende hoof van ENB, het vroeër gesê die beurs is deel van ’n swartbemagtigingsaksie en dat die bank ingevolge regsadvies net swart kinders mag steun.
Johannesburg – ’n Vrou van Noordwes is besig om aan te sterk ná sy vroegoggend tydens ’n huisroof geskiet is. Luidens ’n verklaring wat namens die provinsiale polisiekommisaris uitgereik is, het die vrou en haar man gelê en slaap toe sy wakker word van ’n geluid uit die kombuis. Sy het ondesoek ingestel en gesien die binnenshuise sekuriteitshek is gebreek toe die indringer haar sien, en op haar begin skiet. Sy is in die heup getref, terwyl ’n tweede koeël die muur getref het. Daarna het die rower weggehardloop, en die vrou se man het met haar hospitaal toe gejaag. Sover is bepaal dat ’n DVD-speler en juweliersware gesteel is.
Die Vrystaatse polisie het 'n beroep gedoen dat moontlike ooggetuies na vore moet kom met inligting oor 'n saak waarin 'n egpaar op hulle plaas vermoor is. Die 65-jarige Koos van Zyl en sy 60-jarige vrou, Rina is vanoggend dood op hulle plaas, Poortjie naby Senekal in die Oos-Vrystaat gekry. 'n Voertuig wat aan hulle dogter behoort en 'n selfoon word vermis. 'n Polisiewoordvoerder, Majang Mosupa sê die motief vir die moord is nog nie duidelik nie, en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Tuesday, January 05 2010 @ 11:38 AM CST
Geskryf deur: Kraai
Kaapstad – ‘n Agttienjarige meisie is in hegtenis geneem in verband met die moord op haar kêrel (24), het die polisie in die Wes-Kaap Dinsdag gesê. “Die twee het Maandagaand ‘n argument gehad oor twee kinders,” het kapt. Bernadine Steyn, polisiewoordvoerder, gesê. Na bewering het die meisie ‘n mes in die huis gaan haal en die slagoffer herhaaldelik in die bors gesteek. Hy het op die toneel gesterf en sy is later in hegtenis geneem. Die verdagte sal Woensdag in George in die landdroshof verskyn.
Kroonstad. – Die lyk is gekry van ’n man wat na bewering ’n ongeluk op die pad tussen Kroonstad en Welkom veroorsaak het en daarna glo uit skok van die ongelukstoneel weggehardloop het. Sy drywende lyk is twee dae later in die Bloemrivier buite Kroonstad gekry. Die polisie het die lyk van die man (vermoedelik 45) gistermiddag uit dié rivier gehaal. Die man se naam kan nie bekend gemaak word nie omdat sy naasbestaandes nog in kennis gestel moet word van sy dood.
Witbank. – Mpumalanga se sowat 60 000 matrieks het gister uit die bloute gehoor dat hulle nie oormôre hul uitslae saam met die res van die land gaan kry nie. Umalusi, die nasionale raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het gistermiddag op ’n mediakonferensie in Pretoria goedkeuring vir die uitreiking van die ander agt provinsies se uitslae gegee, maar nie vir Mpumalanga nie. Prof. John Volmink, voorsitter van Umalusi, het gesê “daar is jaar ná jaar ’n probleem met die uitslae in Mpumalanga. Dit is teleurstellend en die bestuur van die eksamenprosesse in die provinsie laat veel te wense oor. ’n Mens kan net hoop dit gaan nou aandag kry”.
Die Switserse voedselmaatskappy, Nestlé het bedrywighede in Zimbabwe hervat. Dit volg na die versekering van die regering dat daar nie by sy sake ingemeng sal word nie. Nestlé het sy fabriek in Harare verlede maand gesluit. Die maatskappy het gekla oor teistering deur die owerheid, nadat hy 'n ooreenkoms gekanselleer het om melk van 'n plaas in president Robert Mugabe se familie se besit te koop. Nestlé se besluit verlede maand was 'n terugslag vir die regering, wat hoop om buitelandse beleggers na die land terug te lok.
Die vervoernetwerk in Brittanje is in chaos gedompel weens swaar sneeu en ysige weerstoestande. Lughawens is gesluit en treindienste word erg ontwrig. Temperature in Brittanje het oornag tot minus tien grade gedaal en 'n dik sneeulaag het reeds gevorm. Ernstige waarskuwings van swaar sneeu en wydverspreide ys regoor Skotland, noord-, sentraal -, en wes-Engeland is uitgereik, terwyl swaar sneeu ook vandag en môre verder suid en in Londen voorspel word. Die Machester lughawe was tot kort gelede nog gesluit en vlugte by die Leeds Bradford lughawe is gekanselleer. Die uiters koue toestande in Brittanje sal na verwagting tot aan die einde van die maand voortduur. Desember in Brittanje was een van die koudste maande in die geskiedenis.
Monday, January 04 2010 @ 09:10 AM CST
Geskryf deur: Kraai
Geneva – ‘n Reeks sneeustortings het die Switserse Alpe die afgelope naweek getref en die lewens van vyf mense geëis, het nooddienspersoneel Maandag gesê. Die eerste sneeustorting het Sondag omstreeks 12:30 plaasgevind in Switserland se Bernese Alpe. ‘n Skiër het gesterf. Nooddienspersoneel is steeds op soek na oorlewendes nadat ‘n tweede sneeustorting sowat ‘n halfuur later plaasgevind het. Agt helikopters met dokters, reddingswerkers en soek-en-reddingshonde aan boord is na die toneel geneem. Na bewering is agt persone reeds gered. Van die oorlewendes is in ‘n kritieke toestand en drie persone het later in die hospitaal gesterf. Een van die oorledenes was ‘n dokter wat sy hulp aangebied het op die toneel. Nooddienswerkers het ook die lyk van ‘n bergklimmer gevind. – Sapa, AFP
’n 11-jarige seun het Vrydag ’n 12-jarige seun in Taung met ’n mes doodgesteek. Sr.supt. Kebaakae Metsi, Noordwes se provinsiale polisiewoordvoerder, sê die seuns was in ’n twis betrokke. Die 11-jarige het die 12-jarige twee keer in elke skouer gesteek. Die 11-jarige is in hegtenis geneem en in sy ouers se toesig vrygelaat.
Meer as seweduisend motoriste in KwaZulu-Natal sal die week verkeersboetes kry nadat hulle oor die naweek vir spoed op die land se paaie gevang is. 'n Verkeerswoordvoerder, Colin Govender, sê die hoogste boete tot dusver was 'n boete van 18-duisend rand aan 'n motorfietsryer wat meer as 200 kilometer per uur gejaag het. Govender sê hoewel meer as 700 motoriste betrap is wat onder die invloed van drank bestuur het, was spoed verreweg die mees algemene oortreding.
Volgens 'n bestuursvaardigheidsmaatskappy was die dodetal op paaie in Desember vanjaar, méér as verlede jaar, wat strydig is met syfers deur die Departement van Vervoer dat dit met 142 afgeneem het. Die maatskappy,
www.driving.co.za, sê die departement se syfers is foutief en gegrond op teenstrydige statistiek.
Die wêreld se hoogste gebou sal vandag te midde van streng veiligheidsmaatreëls in Dubai amptelik geopen word. Dubai sal sy nuutste pronkstuk open ondanks die emiraat se wankelende ekonomie. Die finale hoogte van die Dubai toring is steeds 'n goed bewaarde geheim. Die gebou is meer as 800 meter hoog wat heelwat hoër is as die Taipei 101 in Taiwan wat voorheen die hoogste gebou in die wêreld was. Die Dubai toring het 'n uitlykplatform op die 124ste vloer wat ook 'n nuwe rekord is.
Monday, December 28 2009 @ 12:36 PM CST
Geskryf deur: Kraai
Vier mense, waarskynlik van 'n enkele gesin, is Maandagmiddag oorlede toe 'n sessitplek-vliegtuig naby Harrismith in die Vrystaat neergestort het. Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het nooddienste omstreeks 13:30 ‘n oproep ontvang dat ‘n vliegtuig geval het. Die vliegtuig, 'n Beach Bonanza, het by die Platberg neergestort in digte mis. Die vliegtuig het in 'n "amper onbegaanbare" gebied neergestort. Paramedici en polisie was teen 16:00 steeds op die toneel besig.
Altesame 840 mense is van 1 Desember tot eergisteraand op Suid-Afrikaanse paaie dood. “Volgens ’n voorlopige verslag is 218 bestuurders, 327 passasiers en 295 voetgangers in 654 noodlottige ongelukke tussen 1 en 26 Desember dood.
Twee gesinne het die ergste verwag toe vier gewapende mans hulle op Kersaand by ’n vakansiehuis in Mtunzini aan die Kwa¬Zulu-Natalse noordkus aangehou en beroof het. Die aanvallers het ’n pistool, ’n mes en ’n skroewe¬draaier gehad. Die rowers het met elektroniese goedere van sowat R60 000 gevlug.
Suid-Afrikaners wat na die VSA reis moet hulle gereed hou vir langer reistye en ekstra veiligheidsondersoeke. Lugdienste wêreldwyd, waaronder die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het hul veiligheidsmaatreëls die naweek verskerp ná ’n mislukte terreuraanval op ’n Northwestern/Delta-vlug van Amsterdam na Detroit in die VSA. Mnr. Umar Farouk Abdulmutallab (23), ’n Nigeriër wat bande met Al-Kaïda het, het glo op Kersdag plofstof aan sy lyf aan boord Vlug 253 gesmokkel en wou dit laat ontplof kort voordat die vliegtuig in Detroit in die deelstaat Michigan sou land. Passasiers en bemanningslede het hom egter oorrompel en die vlug het veilig geland, waarna die vermeende terroris na ’n hospitaal geneem is.
Wednesday, December 23 2009 @ 12:48 PM CST
Geskryf deur: Kraai
Hermanus. – Twee Kanadese toeriste is gisteroggend in die Fernkloof-natuurreservaat hier aangeval en ernstig beseer. Dit is die vierde aanval in dié reservaat die afgelope twee maande. Die twee toeriste, wie se name nie bekend gemaak is nie, is deur ’n onbekende aantal aanvallers met messe gesteek en glo ook met klippe bestook. Die aanval het omstreeks 07:15 gebeur, maar die erg beseerde paartjie is eers omstreeks 10:00 op die staproete deur ’n ander groep stappers gevind. Na verneem word, is die paartjie na die Medi-Clinic in Hermanus gebring. ’n Woordvoerder van dié hospitaal wou egter nie bevestig of hulle daar is nie. In November is ’n Italiaanse paartjie en ’n Duitse paartjie in afsonderlike voorvalle in dié reservaat deur twee mans aangeval en met messe gedreig. ’n Groep van agt bejaarde stappers van Somerset-Wes is einde November ook in die reservaat aangeval.
Die Spoorveiligheidreguleerder ondersoek 'n voorval waarin 'n goederetrein gister op die Mapleton-Rooikop spoor aan die Oos-Rand ontspoor het. 'n Treindrywer en sy assistent het geringe beserings opgedoen toe die trein ontspoor en omgeslaan het. Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie, maar daar word vermoed dat groot klippe wat op die spoor gepak was daartoe kon gelei het. 'n Woordvoerder vir die reguleerder, Lawrence Venkile sê dit is die vierde soortgelyke voorval op dié spoorlyn.
Die Switserse voedselmaatskappy, Nestlé het sy bedrywighede in Zimbabwe opgeskort. Dit volg twee maande nadat hy aan 'n ooreenkoms onttrek het om melk van 'n plaas te koop wat deur president Robert Mugabe se familie besit word. 'n Woordvoerder vir die maatskappy in Suid-Afrika, Ravi Pillay het geen redes vir dié stap gegee nie, maar 'n bron naby aan die saak sê die maatskappy se uitvoerende bestuurders is die week deur die polisie ondervra. In Oktober het Nestlé ná internasionale kritiek, opgehou om melk van die Gushungo-plaas te koop.
Die Franse minister van buitelandse sake, Bernard Kouchner sê Guinee kan in 'n burgeroorlog gedompel word, indien die land se militêre leier, Moussa Dadis Camara terugkeer. Kouchner sê dit sal beter wees as Camara in Morokko bly, waar hy mediese behandeling ontvang. Camara is vroeër die maand gewond in 'n sluipmoordpoging.
Groot rotse wat op 'n spoorlyn naby 'n Oos-Randse plakkerskamp gepak is, was dalk die rede waarom 'n goederetrein in Boksburg ontspoor het. Die drywer en sy assistent is beseer nadat die trein omgeslaan het. 'n Woordvoerder van Netcare 911, Chris Botha, sê die trein het ammoniumhidroksied vervoer. Botha sê dit lyk of die groot klippe op die spoor gepak is en veroorsaak het dat die lokomotief ontspoor het. 'n Brandweerwa van Transnet wat op pad na die toneel was, het omgeslaan toe dit probeer het om 'n U-draai te maak. Hy sê een van die bemanningslede in die voertuig is ernstig beseer.
Tuesday, December 22 2009 @ 10:56 AM CST
Geskryf deur: Kraai
Johannesburg - Die TLU SA Noord is geskok oor die moord op Pieter Snyman, bestuurder van die plaas Balmoral, naby Vivo in Limpopo. Luidens ’n mediaverklaring deur die TLU SA Noord, is Snyman glo dood na hy deur vier mans buite sy huis aangerand is. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord sê Snyman se vrou en twee dogters is vasgebind en ook aangerand, hoewel hulle nie ernstig beseer is nie. Die vier verdagtes het glo gisteraand Snyman se huis binnegestap terwyl hy en sy oudste dogter plaaswerkers, wat aartappels uitgehaal het, by hul huise gaan aflaai het. Hulle het sy vrou en 12-jarige dogter na bewering vasgebind en aan hulle gesê hulle weet Snyman is nie tuis nie, maar hulle gaan hom buite inwag. Snyman het glo omstreeks 19:30 by die huis gekom en is deur die vier mans aangerand. Hy het op die toneel aan sy wonde beswyk.
’n Veiligheidswag is in hegtenis geneem omdat hy vermoedelik rowers ingelaat het by die veiligheidskompleks in Silverton, Pretoria, waar hy aan diens was. Die wag, wat by die Savannah-veiligheidskompleks diens gedoen het, is gearresteer nadat hy erken het hy ken die rowers wat in ’n huisrooftog in die kompleks betrokke was, het kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, gister gesê. Volgens Sepato het die 35-jarige wag Saterdagaand na bewering sewe mans in ’n Volkswagen-minibus by die kompleks ingelaat sonder om die nodige prosedure te volg. Dié mans het by ’n huis in die kompleks ingebreek, die gesinslede wakker gemaak, met vuurwapens aangehou en beroof. Hulle het verskeie elektroniese ware in die gesin se ¬Corsa-bakkie en Mercedes-Benz-motor gelaai en daarmee weggery. Die wag het die valhek vir die rowers oopgemaak sonder om hulle of die voertuie deur te kyk, het Sepato gesê.
n Man wat 15 lewendige akkedisse aan sy lyf vasgebind het en probeer het om deur 'n doeane by Los Angeles se Internasionale lughawe te loop, het onskuldig gepleit op aanklagte van smokkelary. Michael Plank van Lomita in Kalifornië het van Australië af teruggekeer huis toe in November, toe doeane beamptes twee geitjies, twee likkewane en elf kleiner akkedisse aan hom gevind het. Reptiele in Australië word streng gereguleer en volgens die owerheid het Plank nie die nodige permitte gehad nie. Onwettige dierehandel kan lei tot soveel as 20 jaar gevangennistraf, of boetes van 250-duisend dollar.
Eurostar het sy spoordiens wat Brittanje, Frankryk en België verbind en drie dae lank opgeskort was, weer hervat. Die opskorting het duisende reisigers gestrand gelaat en President Nicolas Sarkozy van Frankryk die josie in gemaak. Amptenare van Eurostar sê hulle het die probleem geïdentifiseer wat daartoe gelei het dat treine in die Kanaaltonnel onklaar geraak het. Hulle sê buitengewone droë, poeieragtige sneeu het in die enjins beland. Sowat 40-duisend mense is deur die opskorting van Eurostar se diens geraak.
Monday, December 21 2009 @ 09:56 AM CST
Geskryf deur: Kraai
Pres. Jacob Zuma oorweeg Schabir Shaik se aansoek om presidensiële kwytskelding. Shaik het aansoek om kwytskelding gedoen en die president oorweeg die aansoek, het presidensiële woordvoerder, mnr. Vincent Magwena, Maandag gesê. Shaik is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis weens bedrog wat met die wapenskandaal verband hou. Hy is later weens mediese redes op parool vrygelaat "omdat hy in die laaste fase van 'n terminale siekte" was en is onder huisarres geplaas.
Die veroordeelde bedrieër, Schabir Shaik, sal die geleentheid kry om sy kant van die saak te stel tydens 'n ondersoek na die moontlike oortreding van sy paroolvoorwaardes. Koerante het die naweek verskeie foto's gepubliseer van Shaik waar hy inkopies doen wat strydig met sy paroolvoorwaardes is. AfriForum het gister 'n klag by die paroolraad teen Shaik ingedien. Die waarnemende distrikskommissaris van die KwaZulu-Natalse Korrektiewe Dienste, Mnikelwa Nxele, sê hulle sal Shaik die geleentheid gee om te verduidelik.
Die jongste sterfgevalle op Suid-Afrikaanse paaie was Maandagoggend toe drie mense in Johannesburg dood is toe 'n taxi gerol het. Bykans 550 mense is al sedert die begin van die Desember-vakansie op die land se paaie dood.
Blantyre. – Minstens drie mense is dood, 200 beseer en verskeie geboue verwoes in ’n aardbewing gister in die noorde van Malawi. Die aardbewing het omstreeks 01:19 getref. Van die slagoffers was leerlinge van ’n staatskool wat in hul koshuis geslaap het, het mnr. Gasten Macheka, kommissaris van die Karonga-distrik waar dit gebeur het, gesê. Sowat 270000 mense is aangeraai om hul huise te verlaat en na veiliger gebied te gaan. Macheka het gesê hulle benodig sowat 48000 tente en mediese voorrade.
Die tropiese sikloon - Laurence - is tot 'n kategorie vyf storm opgegradeer en sal na verwagting later vandag Australië se weskus bereik. Inwoners is aangeraai om voorsorg te tref omdat winde van tot 285 kilometer per uur verwag word. Die owerheid sê die wind begin reeds sterk waai in die strandgebied net noord van Pilbara, wat as die Eighty Mile Beach bekendstaan.
Die enigste spoorlyn tussen Brittanje en die res van Europa is onbepaald gesluit met duisende treinpassasiers wat voor Kersfees gestrand gelaat is. Eurostar sê probleme met treindienste het Vrydag begin toe vyf treine in die Engelse Kanaaltonnel probleme ondervind het. Meer as tweeduisend passasiers is ure lank in bedompige toestande vasgekeer. In totaal is meer as 55-duisend passasiers geraak. Sommige paniekbevange passasiers was meer as 15 uur lank sonder kos of water terwyl hulle geen idee gehad het van wat aan die gang is nie. Eurostar het die versekering gegee dat geen trein die tonnel sal binnegaan voordat al die probleme nie uitgestryk is nie. Volgens die treindiens het die gure weerstoestande in die noorde van Frankryk die probleme veroorsaak. Hoewel toetse vandag gedoen sal word, wou Eurostar nie die versekering gee dat dienste môre hervat sal word nie.
Friday, December 18 2009 @ 10:40 AM CST
Geskryf deur: Kraai
Die politieke situasie in Guinee, waar meer as 30 Suid-Afrikaners militêre opleiding vir die bewindhebbende junta behartig, ontaard in ’n kruitvat. Opponerende groeperings in die regering het ná die onlangse onderlinge skietvoorval, waartydens pres. Moussa Dadis Camara, die junta se leier, in die kop geskiet is, begin om hul eie soldate op te lei. Die Suid-Afrikaners word glo betaal deur ’n maatskappy met oliebelange in Angola én in Guinee. Dieselfde maatskappy het Chinese bande en ’n kontrak van etlike honderdmiljoene dollars met Camara onderteken vir olie- en minerale regte. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat daar ’n volskaalse burgeroorlog uitbreek en dan sit die Suid-Afrikaners in die middel.
Frankryk se voormalige president, Jacques Chirac, word amptelik vir korrupsie ondersoek. Dit dra by tot sy probleme met die gereg slegs twee maande nadat hy aangesê is om tereg te staan op 'n afsonderlike aanklag van omkopery. Chirac se kantoor sê hy is reeds deur die voorsittende landdros ondervra. Die ondersoek spruit voort uit bewerings dat hy in die vroeë 1990s - terwyl hy die burgemeester van Parys was - sewe politieke bondgenote aangestel het sonder dat daar enige poste beskikbaar was. Die voormalige president wat in 2007 uitgetree het, ontken dat hy enige oortreding begaan het.
Reddingswerkers het hul soektog hervat na talle vermistes van 'n vragskip-ongeluk aan die noordelike kus van Libanon. Volgens 'n militêre woordvoerder het die vaartuig, wat in Panama geregistreer is, met 80 mense aan boord gesink. Agt-en-dertig bemanningslede is sover lewend gevind terwyl vyf liggame uit die see gehaal is. Die reddingsoperasie is na internasionale gebiedswater naby Sirië uitgebrei. Verskeie vaartuie neem aan die soektog deel.
ie minister van vervoer, S'bu Ndebele sê hy is vol vertroue dat die puntestelsel gekoppel aan rybewyse wat in Maart in werking gestel word, padongelukke drasties sal verminder. Ndebele het sy kommer uitgespreek oor die aantal dodelike ongelukke op die land se paaie. Sowat 450 mense is reeds sedert die begin van die maand in ongelukke dood, bykans dubbeld soveel as dieselfde tyd verlede jaar.
Thursday, December 17 2009 @ 09:15 AM CST
Geskryf deur: Kraai
n Vrouestaatsaanklaer is gister saam met twee mans in Bramley Park, Johannesburg, in hegtenis geneem nadat hulle glo twee weke gelede ’n Oos-Randse onderneming beroof het. Sowat agt rowers het Logistics Industrial van sowat 700 nuwe rekenaars, skootrekenaars en selfone beroof. Die waarde van die gesteelde goedere is sowat R6 miljoen, het die maatskappy se veiligheidsbestuurder gesê. Volgens hom het die rowers – almal gewapen – die wagte omstreeks 23:45 oorrompel en vasgebind. Die rowers het ’n vragmotor gebring om die gesteelde goedere te vervoer.
Dele van die Wes-Kaap is weens die huidige droogte tot rampgebiede verklaar. Die provinsiale Departement van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning sê die Edendistrik is in 'n ernstige droogte vasgevang en Mosselbaai, George, Knysna en Bitou is tot rampgebiede verklaar. Die provinsiale minister, Anton Bredell, sê een van die maatreëls om die watertekort te probeer verlig, is om waterverbruik te sny deur die prys van water te verhoog. Die provinsiale regering het ook die betrokke munisipaliteit met 53 miljoen rand in nasionale noodbefondsing bygestaan.
Sterrekundiges het 'n nuwe planeet ontdek wat baie soos die Aarde is. Dit is bykans drie keer groter as die Aarde en kan meer as 50 persent met water bedek wees. Volgens 'n studie in die wetenskap tydskrif - Nature - is die sogenaamde "super Aarde" sowat 42 ligjare ver in 'n ander sonnestelsel. 'n Woordvoerder vir die Universiteit van Kalifornia, Geoffrey Marcy, sê die ontdekking is 'n reuse stap vorentoe in die soeke na wêrelde soortgelyk aan die Aarde. Hy sê die planeet se digtheid dui daarop dat dit uit 75 persent water en 25 persent rots bestaan. Daar is ook aanduidings dat die planeet se atmosfeer uit gasse bestaan.
'n Akteur van die gewilde sepie Sewende Laan, is in hegtenis geneem nadat hy teen 'n spoed van 190 kilometer per uur in Mondeor, suid van Johannesburg betrap is. Die 26-jarige man is volgens die polisie tussen die Goue Hoofweg en die N12 vasgetrek. Hy sal vandag in die stad se landdroshof verskyn.
Wednesday, December 16 2009 @ 11:18 AM CST
Geskryf deur: Kraai
Die voormalige minister van gesondheid Manto Tshabalala-Msimang is Woensdagmiddag dood vanweë komplikasies met ‘n leweroorplanting wat sy in 2007 ondergaan het. Op 14 Maart 2007 het Tshabalala-Msimang ‘n vyf uur lange leweroorplanting by dié mediese sentrum ondergaan. Sy is in November vanjaar weer hier opgeneem vir opvolg-behandeling vanweë komplikasies met haar eerste leweroorplanting.
Twee vermeende booswigte is doodgeskiet en drie polisiebeamptes gewond tydens 'n wilde skietery Woensdag in Margate aan die KwaZulu-Natalse suidkus. Die stasiekommissaris, kapt. Michelle Pitout, is kritiek gewond in die skietery tussen die polisie en minstens drie gewapende booswigte. Sy is in die kop, bors en arm geskiet en nog twee polisiebeamptes is gewond. Die polisie het twee van die aanvallers doodgeskiet en een gewond. – Sapa
Die omstrede voorstel deur die departement van kommunikasie om ’n SAUK-belasting op individue te hef is deur die tesourie afgeskiet. Mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, sê in ’n geskrewe antwoord op ’n parlementêre vraag só ’n belasting word nie oorweeg nie omdat geoormerkte belastings nie doeltreffend is nie. Dit volg op ’n omstrede voorstel in die Voorgestelde Wet op die Openbare Uitsaaiwese dat ’n spesiale heffing van tot 1% van belasbare inkomste na die SAUK gaan. Dié voorstel het kwaai kritiek van drukgroepe ontlok.
San Juan - ’n Paartjie van Texas het ’n sewe maande oue fetus in ’n geskenkpakkie onder ’n Kersboom gesit nadat hulle die lyk nie by die toilet kon afspoel nie. Ruby Lee Medina (31) en Javier Gonzalez (37) van Mission is aangekla vir die mishandeling van ’n lyk en vir die peuter van bewysstukke. Die polisiehoof van San Juan, Juan Gonzalez het gesê die polisie het die fetus Donderdag in die vrou se karavaan ontdek nadat hulle ’n anonieme wenk gekry het. ’n Nadoodse ondersoek is tans onderweg, maar Gonzalez het gesê die polisie glo die vrou het pille gebruik om die baba self te aborteur.
Eerste | Vorige |
1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 |
Volgende |
Laaste